Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Fanie Viljoen

@ Sunday Times Books LIVE

Pippie Langkous en haar maters

26405439_0_Img2

Maak jou oë toe en probeer onthou waar jou liefde vir lees vandaan kom. Die dink sal jou moontlik terugneem na jou kinderjare. Dis waar die eerste liefde gewoonlik begin.

Ek was baie trots op myself toe ek die dag my eerste “dik” deurgelees het. “Dik” is natuurlik ’n relatiewe begrip, maar dit is ’n mylpaal vir enige jong leser.

Later het ek my nie meer bekommer oor die lengte van die boek nie, maar oor die lekkerte.

So het ek die jeugreekse soos Jasper, Trompie en die Uile kafgedraf, maar dit was veral daardie rabbedoe, Pippie Langkous, wat my verbeelding in snelrat gesit het. Ek was stomgeslaan deur haar avonture. Ek sou saam met haar in bome wou klim, sirkus toe gaan en op die Korriekorriepoteiland wou gaan kuier. Natuurlik moet ek dan ook my eie meneer Jakobs-apie hê, en ’n perd wat ek maklik-maklik bo my kop kan oplig.

In een van die boeke vra ’n advertensie in ’n winkelvenster: Ly u aan sproete? Anneke moet dit lees, want Pippie sukkel ’n bietjie met lees, maar nie met selfvertroue nie. Ewe kordaat stap sy die winkel binne en antwoord: “Nee!”

“Ek verstaan nie wat jy bedoel nie,” sê die verkoopsdame.

“Nee, ek ly nie aan sproete nie,” sê Pippie, en dan voeg sy by: sy ly nie daaraan nie, sy hou daarvan. En as daar ’n room is wat haar nog meer sproete kan gee, soek sy so sewe of agt flesse daarvan. Wonderlik vir kinders wat vandag gebombardeer word met foto’s van perfekte Photoshop-mense.

So is daar talle plesierighede in hierdie, en ander verhale uit Astrid Lindgren se pen. Ek is seker daar sit vandag talle kinders wat smag na die ontvlugting wat Pippie Langkous, Karelsen-op-die-dak en Emil kan bring. Astrid Lindgren se woorde het my kinderwêreld verruim, en dit kan steeds vandag jong lesers op verbeeldingsvlugte neem na die Korriekorriepoteiland en verder.

Klik hier en besoek Fanie Viljoen se webblad.

Klik hier en koop Pippie Langkous aanlyn.

Moenie hierdie grillerige boeke lees nie

 

13 Spookstories

 

As daar nou een manier is hoe jy kinders aan die lees gaan kry, is dit met grillerige stories. Spoke, zombies, geraamtes, ruimtewesens – enigiets gevaarliks.

Maar eers moet jy die boek en die kind bymekaar uitbring. So doen jy dit:

  • Begin om die boek voor te lees, en wanneer die storie op sy interessantste is, hou jy op. Net so! Sê vir die kind: “As jy die res wil weet, hier lê die boek.” My biblioteek-onnie van hoërskool het dit so gedoen, want enige kind wat jy nuuskierig kan maak oor ‘n boek, kan jy in ‘n leser verander. En alle kinders is nuuskierig.
  • Die tweede manier om die kind by die boek te kry: Maak die boek iets wat hy nie veronderstel is om te lees nie. “Jy is nog te klein. Die boek is dalk te grillerig. Jy gaan dalk vanaand niks slaap nie.” Wys hom of haar ‘n paar illustrasies en klap die boek toe. Gaan steek dit weg waar hy/sy kan sien, en los dit net daar.
  • Natuurlik is dit lekker om sommer grillerige boeke saam as gesin te geniet. Sit die TV af. Maak ‘n komberstent in die sitkamer, kry baie kussings, eetgoed en die belangrikste … flitsligte om in die donker te lees. Boeklees word dan ‘n gebeurtenis wat die kind altyd sal onthou.

Hier is ‘n paar van my grillerigste boeke … (Klik op die skakels om meer uit vind.)

13 spookstories video

Lekker lees!

 

 

 

 

Uit – ‘n gay jeugverhaal (uittreksel)

Uit - klein

Swart hare, diepblou oë en ’n kuiltjie in die wang toe hy glimlag. Dis wat in my drome kom spook. Die ou van Redhill. Ek het hom net ’n oomblik lank daar in die ander span se deur gesien voordat hy dit toegemaak het.
Dalk was ek verkeerd. Dalk het hy nie eens vir my gekyk nie.
Of het hy?
Het ons oë ’n ruk lank in mekaar s’n vasgedraai?

Lees verder

Klik hier om Fanie Viljoen se webblad te besoek.

Uittreksel uit Pleisters vir die Dooies

Pleisters vir die dooies klein

1

Die nag is donker en gevaarlik soos ’n begraafplaas waar niemand meer kom nie.
Ek sit op my deurmekaar bed in my kamer en ek dink. Iewers buite is daar geluide, maar dit is ver en dof. Net ’n flou bedliggie brand hier binne. Ek kyk na die vloer, maar ek sien nie regtig iets nie. Iets anders hou nou al my aandag. Ek sit stil om te kyk of dit weer gebeur.
Daar …
Dit voel of iemand anders binne-in my lyf is. Sy hande in my hande. Sy voete in my voete. Sy kop in my kop. Ek voel dit beweeg. Stadig. Diékant toe, dan daardie kant toe. Net effens, maar genoeg om my te laat weet hy is hier.
Skielik voel ek hom agter my staan. Hy kreun. Sy sterk hande lê swaar op my skouers. Hy laat sak hulle af oor my boarms, skuif hulle oor my bors … stadig … Meteens gryp sy hande mekaar vas. Sy arms trek vas om my. Ek wil keer, my arms opruk, maar ek kan nie beweeg nie. Die asem pers uit my longe. Vir ’n ruk sit ek só totdat dit voel of ek gaan vrek. My lyf word koud en dood. Die greep trek stywer, stywer. Ek probeer loskom. Ek probeer weer om iets te voel. Maar dit help nie.
   Ek bly net so vooroor sit en probeer om nie paniekerig te raak nie.
“Dis oukei, dis oukei,” rasper my stem.
    Daar kom ’n bloedsmaak in my mond. Ek sluk dit weg. Ek weet die greep sal weer verswak. Nie baie nie, maar ek sal weer kan beweeg. Tot dan moet ek net wag.
    “Vat dit kalm!” fluister ek vir myself. “Jy ken mos al dié gevoel.”
    Kort hierna sal die hartseer kom. Ek probeer ’n tyd onthou toe ek nie so stukkend gevoel het nie. Ek weet daar was sulke tye, daar móés gewees het, maar ek sukkel om dit te onthou. Was daar ’n tyd toe ek gelukkig was?
    Beelde van dinge by die skool flits voor my verby. Die gesigte van die kinders. Hulle kyk my aan asof my siel uithang. Die slim frats. Die weirdo, die freak. Dis ek.

Klik hier om verder te lees.

Besoek die skrywer se webblad.

Pleisters lokprent

Nog raad vir ‘n opstel

 

Ek het in ‘n vorige blog raad gegee oor hoe om idees te kry vir opstelle. As opstelle jou steeds in puisies laat uitslaan, is hier vandag nog raad.

Het jy geweet: Elke boek wat jy al ooit gelees het, elke fliek wat jy al ooit gesien het, elke rekenaarspeletjie wat jy al ooit gespeel het, volg ‘n sekere basiese storie-formule.

Hou maar vas aan jou stoel, jy gaan nie glo dis so eenvoudig nie:

 

  • ‘n Karakter wil iets hê.
  • Hy kan dit nie kry nie.
  • Hy probeer om dit te kry.
  • Uiteindelik kry hy dit of hy leer om sonder dit te leef.

 

Net dit.

Dink maar aan jou gunsteling fliek. Dit gebruik hierdie formule.

In ‘n sprokie soos Aspoestertjie wil Aspoestertjie met die prins trou. Sy kan dit nie doen nie, want sy is vuil en haar aaklige susters staan in haar pad. Sy probeer om die prins te kry (sy gaan na die bal). Uiteindelik kry sy die prins.

Soms kan dit ook wees dat ‘n karakter nie iets wil hê nie, of van iets ontslae moet raak. In Lord of the Rings wil Frodo van die ring ontslae raak. Hy kan dit nie net weggooi nie, dit moet in Mordor verbrand word. Op pad soontoe beleef hy al hierdie woeste avonture wanneer hy die ring moet beskerm. Uiteindelik kom hy by die gevreesde Mordor aan en raak hy van die ring ontslae.

Nou, terug na jou opstel.

Gebruik hierdie formule wanneer jy jou storie uitdink.

Voorbeeld 1:

  • Tiaan wil ‘n drie druk in die laaste rugbywedstryd van die seisoen. (Gebruik die eerste paragraaf van jou opstel om dit te wys.)
  • Tiaan kan nie die drie druk nie. Hy kan dalk nie eens in die wedstryd speel nie. (Gebruik so twee paragrawe om dit te wys.)
  • Tiaan begin wild oefen om fiks te word. Hy oorkom ‘n paar struikelblokke, bv. moegheid, ‘n besering, hy begin beter speel as die ander speler wat hom uit die spel hou, ens. (Gebruik so ‘n paar paragrawe hiervoor.)
  • Uiteindelik speel hy in die wedstryd en druk hy die drie. Triomf! (Dit is jou slotparagraaf.)

Voorbeeld 2:

  • Judy hou baie van Denver. Sy wil hê hulle moet met mekaar begin uitgaan. (Gebruik die eerste paragraaf van jou opstel om dit te wys.)
  • Judy kan nie vir Denver kry nie, want hy is verlief op Nina. (Gebruik so twee paragrawe om dit te wys.)
  • Judy probeer om vir Denver te kry. Sy bak vir hom koekies, sy skryf vir hom liefdesbriewe of stuur selfoonboodskappe. Maar Nina kom altyd tussenbeide, of Judy se plan misluk deur haar eie toedoen.  (Gebruik so ‘n paar paragrawe hiervoor.)
  • Uiteindelik kry Judy ‘n blink plan en so wen sy Denver se hart. Of sy besluit sy het hom nie nodig nie, want daar is nou ‘n ander cool ou in die skool …

 

Sien jy, dis nie so moeilik nie. Die moeilkste deel is altyd om te besluit wat jou karakter wil hê. Onthou ook dat jou karakter nie JY hoef te wees nie, so moenie skaam wees en wonder wat ander mense van jou gaan dink as jou karakter hierdie of daardie ding wil hê nie.

Maak jou karakters denkbeeldige mense en gaan wild met jou verbeelding.

Dink ‘n bietjie wat die volgende karakters sal wil hê.

  • Die monster onder die bed
  • Die meisie wat uit die boom val en haar arm breek
  • Die seun met die rooi gehuilde oë by die Snoepie
  • Die vrou met die wit kierie by die verkeersoorgang
  • Die ou wat pouse in sy klasmaats se tasse krap
  • Die meisie wat verlore haarrekkies bymekaarmaak

Sterkte met jou opstel.

Besoek gerus my webblad by www.fanieviljoen.co.za

 

YouTube bring my na jou klaskamer toe

Ek en ‘n paar ander kinder- en jeugverhaalskrywers besoek gereeld skole regoor Suid-Afrika. Maar natuurlik kan ons nie by almal uitkom nie.

Die goeie nuus is dat YouTube my nou na jou klas toe kan bring.

Kyk gerus hierdie twee video’s vir my boeke Onderwêreld en Spring wat tans by baie skole voorgeskryf word.

Gebruik die video’s voordat julle die boek begin lees, as ‘n luisteroefening, of sommer net vir die lekker.

YouTube Preview Image YouTube Preview Image

 

Besoek ook my webblad vir nog boeke en warm nuus.

10 redes hoekom jy nie moet skryf nie

‘n Haarkapper sê eendag vir my sy wil ook eendag ‘n boek skryf. Sy gaan sommer haar ou vra om vir haar ‘n skootrekenaar te koop, dan kan sy heeldag so lekker in koffiewinkels sit, koffie drink en skryf.

Sy, en baie ander mense, het maar ‘n effe verdraaide prentjie van skryf.

Dit is hoekom ek jou vandag wil afraai van skryf af. Moenie daaraan dink nie. Gaan kyk 7de Laan, grawe in jou tuin, gaan ruil ‘n pap wiel om, gaan maak kos, maar moenie, o moenie begin skryf nie.

Hier is 10 redes hoekom jy nie moet begin skryf nie:

  • Mense gaan dink jy is weird. Jy gaan dalk, soos ek blykbaar doen, anders begin loop, want jy gaan heeldag aan jou storie dink. Jy gaan dalk hardop met jou karakters praat sonder dat jy dit weet.
  • Jy gaan min slaap kry. Stories gaan jou soggens so teen drieuur wakkermaak.
  • Jy gaan mense na aan jou verloor. Hulle gaan doodgaan of trou en weggaan of geboelie word of vreeslik seerkry. En jy gaan dit aan hulle doen. Jou karakters gaan soos familie en vriende word en jy gaan hulle verloor as jy jou boek klaargeskryf het.
  • Jy gaan min geld kry vir al jou harde werk. Die Ontvanger gaan soms met sy BTW-heffing meer per boek verdien as jy. Ouch!
  • Daar gaan mense wees wat nie van jou gaan hou nie. Jou regte familie sal dalk eerste wees as hulle wil eet en jy wil skryf. Of as hulle wil skool toe gaan en jy wil nog net die een paragraaf klaarmaak. Lesers gaan dalk nie van jou hou nie omdat jy dinge vir hulle gaan sê wat hulle nie wil hoor nie.
  • Uitgewers gaan nare goed oor jou manuskrip sê. Hulle gaan ‘n kritiese vinger reg op jou geliefde woorde lê en jy gaan ‘n depro slaan wat jou tot ‘n week in die bed kan hou. Dalk begin jy goed breek. (Steek verkieslik breekgoed weg voor jy briewe of e-posse van uitgewers oopmaak, jy weet nooit wat daarbinne wag nie.)
  • Jy gaan lank na ‘n skoon rekenaarbladsy staar en wonder of jy nie maar ‘n regte werk moet gaan soek nie.
  • As jy so gelukkig is om ‘n boek te publiseer, gaan jy hom dalk eendag op ‘n uitverkoping raakloop. Jy gaan verraai voel deur boekwinkels, uitgewers en lesers. Niemand gaan verstaan as jy die blaaie van jou boek as tissues begin gebruik voor die uitverkopingtafel nie.
  • Jy dink nou jy is slim. Die slegte nuus is: jy is nie. En as jy skryf gaan jy dit uitvind. Jy gaan foute maak. Spelfoute, feitefoute, storiefoute. Jy gaan jouself vasskryf en goed moet uitvee. Dalk sommer hele tonele, hoofstukke en selfs karakters sal miskien moet waai as jy jou storie wil regmaak.
  • Jy gaan nie beroemd word nie. Mense wat in 7de Laan speel word op straat vir handtekeninge voorgekeer. Jy sal waarskynlik nie. Daar gaan nie volbladadvertensies vir jou boek in tydskrifte of koerante verskyn nie. Jou boek gaan nie op plakkate teen lamppale geadverteer word nie.

Maar as jy steeds kans sien om elke dag voor ‘n rekenaar te gaan sit en woorde bloei, gaan daar iets in jou binneste begin lewe. Jy sal met ander oë na die wêreld kyk. Jy sal ander mense anders na hulle wêreld laat kyk.

Iewers gaan jy iemand aanraak. Iewers gaan iemand besef: Maar ek is nie die enigste een wat só voel nie. Ek is nie alleen nie.

En dit is waarom jy moet skryf.

 

Klik hier om Fanie se webwerf te besoek.

 

 

dorslesser

dorslesser

Fanie Viljoen

 

die straatligte is ons nie meer genadig nie

ons verloor ons kaarte by kitsbanke

staan in ’n tou by die Spar se Lotto-toonbank

dink aan verspeelde kanse op spesiale seeppoeier-aanbiedinge

 

die straatligte is verveeld met ons antiseptiese lewens

ons sny ons grasperke met uitdrukkinglose gesigte

laai ons selfoonbatterye wanneer ons slaap

dink aan die laaste droewige danse by huispartytjies

 

die straatligte het hulle geduld met ons verloor

ons betaal ons meenthuisheffings sonder vrede

belowe onsself ons sal nooit weer verlief raak nie

dink aan die laaste keer toe ons werklik gelukkig was

 

die straatligte les nie meer ons dors nie

ons lewe van rooi verkeerslig tot rooi verkeerslig

grawe bloed uit die sagte plekke onder ons naels

dink aan die waarskuwings op nat botteltjies insekgif

 

Besoek Fanie se webblad by www.fanieviljoen.co.za

(c) Fanie Viljoen

Nova: Sterreloper

Die vierde boek in die Nova-reeks is nou op die rakke.

Lucas ken Nova-eenheid se geheime. Hy het met sy eie oë die eksperimente in die laboratoriums gesien: die monstermense, die verskrikte ruimtewesens in die tenks. En hy verstaan nou waar sy en sy vriende se spesiale kragte vandaan kom. Hulle was ook daar, in daardie laboratoriums, jare gelede.
Hulle was ook eksperimente. Al verskil is, hulle was die suksesverhale …
Maar daar is geheime wat Lucas steeds nie ontrafel het nie.
Wie is die geheimsinnige Sterreloper wat gereeld vir hom boodskappe stuur?
Wat beteken die vreemde visioen wat hy in sy broer se oë gesien het?
En waarom wil die grootkoppe van Nova-eenheid hom en sy vriende skielik met vakansie see toe stuur? Lucas vermoed dit gaan nie net ’n gewone vakansie wees nie. Dit voel asof dinge nou op ’n manier in plek begin val. Eendag sal hy dalk die groter prentjie kan sien en nie meer net die legkaartstukke nie … Is Lucas en sy vriende gereed om die grootste geheim van almal te ontdek?

Klik hier en besoek Fanie se webblad vir meer inligting.

 

Afrikaanse boeke op uitverkoping

Enige skrywer se hart gaan staan ‘n paar oomblikke lank stil wanneer jy die boek waaraan jy so lank gewerk het op ‘n boekuitverkoping sien. Jy wil jou woorde, jou nagte van wakkerbly, jou oggende van vroegopstaan, jou karakters, jou kinders net daar red, al beteken dit ook jy moet al vyf of ses of sewe kopieë koop.

So het ek ook gevoel toe ek my boek Klits Kronkel en die Vlammende Swaard ‘n jaar of wat gelede daar raakloop. Jy kry jou boek jammer, maar wat moet jy maak? Die uitgewers waarsku jou nie dat jou boek teen ‘n appel en ‘n ei gesmous gaan word nie. Hulle waarsku jou nie dat jou hart daar voor die uitverkopingtafel gaan agterbly nie, so bly liewer weg.

Ek sien vanoggend Exclusive Books het ‘n uitverkoping aan. Genadiglik sien ek nie een van my boeke nie, maar daar lê hope Afrikaanse boeke wat die een literêre prys na die ander verower het.

Beteken dit uitgewers (en skrywers) is uit voeling met die mark? Het die uitgewer bloot te veel boeke gedruk en nou lê hulle die stoorkamer vol? Was die oorspronklike prys te hoog? Skakel lesers oor na e-lesers? Of was die boek nie regtig so goed soos die literêre prys ons wou wysmaak nie?

Wat dink jy?

 

Klik hier om Fanie se webblad te besoek.